Eerstens, hier is uitstekende nuus! God het jou lief en wil jou red!
​
Omdat God jou liefhet, wil Hy in verhouding met jou staan. Om dit te bewerkstellig, het Jesus jou ingesluit in iets fenomenaal.
​
Jesus het jou ingesluit!
​
Jesus, die Seun van God, het aarde toe gekom en in my en jou plek die straf vir die sonde van die hele wêreld op Homself geneem. Hy het geen sonde gehad nie, maar die sonde van die hele wêreld gedra. Dit sluit joune in. 1 Johannes 2:2 “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld”. Hy het dit gedoen deur vrywillig Sy lewe te kom aflê en aan die kruis te sterf en weer opgestaan uit die dood.
​
Jy wonder dalk – is jou sonde nie te erg of te veel nie? Wel, nee – want die Skrif hierbo sê duidelik die sonde van die “hele wêreld”. Joune, hoe erg ook al, is maar ‘n klein deel daarvan.
​
God wil hê jy moet gered word!
​
Dis reg, die Bybel leer ons dat God wil hê alle mense moet gered word en tot kennis van die waarheid kom (1 Timoteus 2:3-4). Dit sluit natuurlik jou in. So aan God se kant is die werk gedoen. By Hom staan die deur vir jou oop. Die vraag is, wil jy God leer ken en in verhouding met Hom leef?
​
Gees sal jou oortuig
​
Die Heilige Gees – God se Gees – oortuig mense diep in hul harte van die waarheid van Jesus se verlossingswerk en dat Hy die Heerser van die heelal is. Hy oortuig mense ook van elkeen se sonde en behoefte om gered te word. Dit is Hy wat iemand oortuig van die waarheid. Dit is nie iets wat ‘n mens of argument kan doen nie.
​
Oortuig die Gees jou? Oortuig Hy jou dat jy nodig het om jou lewe te onderwerp aan die heerskappy van Jesus? Oortuig Hy jou van God se liefde vir jou? Oortuig Hy jou van die waarheid van Jesus se werk? Oortuig Hy jou dat Jesus die enigste weg tot verlossing is? Want Jesus sê “Ek is die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6).
Jy reageer
​
Indien jy oortuig word in jou hart, het jy nodig om Jesus “aan te neem”. Ons noem dit ook bekering. Hieronder word bekering kortliks verduidelik. Jy kan natuurlik die Bybel verwysings self gaan oplees as jy wil, of jy kan met iemand van ons pastorale span praat. Ons wil BAIE graag met jou praat, so kontak ons.
​
BEKERING
​
Bekering vind plaas wanneer mens deur die Heilige Gees oortuig word van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8), en dan daarop reageer deur jou geloof in Jesus en Sy versoeningswerk aan die kruis te plaas (Rom. 10:9-10), vergifnis te vra vir jou sonde (1 Joh. 1:9) en Jesus aan te neem as Verlosser en Heerser van jou lewe (Joh. 1:12). Hierdie gebeurtenis noem Jesus “wedergeboorte”. Dit gebeur nie outomaties nie, maar elke mens moet ‘n keuse vir Jesus maak en tot wedergeboorte kom. Dit is die enigste manier om deel te kry aan God se Koninkryk (Joh. 3:3-5).
​
Praat gerus met een van ons pastorale spanlede as jy meer oor wedergeboorte wil verstaan of jou lewe vir Jesus wil oorgee. Kontak ons en sê bloot “Ek wil Jesus aanneem”.


